Top Tien Bonsmara Inligtingsdag en Veiling Verslag 2014
Monday, July 21, 2014

Top Tien het weer ‘n top aanbod.

Die vyfde jaarlikse Top Tien Bonsmara Inligtingsdag en Veiling is op 17 en 18 Julie by Agra se veilingskrale op Otjiwarongo aangebied. Altesaam 36 uitgesoekte Bonsmarabulle en sowat 100 stoet- en kommersiële vroulike diere is aangebied. Die duurste bul van die dag, geteel deur Okamaja Bonsmaras van mnr Jörg Sigwart, het vir N$60 000 onder die hamer gekom. Die koper was mnr Henk Meyer van die Khomas Hochland, self ‘n Bonsmara teler. Die res van die bulle is vir ‘n gemiddeld van N$32 848 verkoop is.

Altesaam 112 verse is vir ‘n gemiddeld van N$6 546 verkoop en een koei en kalf is vir N$10 000 van die hand gesit. Altesaam 50 kopers het vir die veiling geregistreer en ‘n totale omset van N$1 925 729 is behaal.

Die Top Tien telers het hul tevredenheid met vanjaar se geleentheid uitgespreek. “Ten spyte van die moeilike omstandighede wat tans in die Namibiese vleisbeesbedryf heers wat die uitvoere na Suid- Afrika betref, is ons baie tevrede en baie dankbaar vir die pryse wat behaal is,” het Ben Mouton, die hooforganiseerder, gesê.

Kiep Lepen van Agra stoetveedienste, wat ook die seleksie van diere vir die veiling behartig, sowel as die “kyk-weer” beamptes van die genootskap was dit eens dat dit die sterkste aanbod op die Top Tien nòg was, en dat dit ook in die pryse weerspieël het.

Die boeredag wat jaarliks voor die veiling gehou word, het weer vir baie interessante praatjies en praktiese inligting gesorg. Selfs die boere is hierdie keer ‘n geleentheid gegee om hulle ondervindinge te deel. Wilhelm Mosehuus en Arné Gressmann het vertel hoe hulle die vorige jaar se uitdagende omstandighede moes hanteer, of dit nou droogte of vloede was. Dr Joggie Briedenhann het met behulp van die gebruikersvriendelike veilingkatalogus aan voornemende kopers die magdom syfers en inligting wat die Bonsmaras beskikbaar het, maklik uiteengesit. Streicher Coetzee het met die toepassing van pelvismetings in sy eie kudde baie vinnige vordering gemaak, en het hierdie ondervinding met die gehoor gedeel. Die praktiese gedeelte, waartydens deelnemers self op bekken-bene metings kon “oefen”, en ook die kastrasie van groot tollies kon sien, het groot byval gevind. Riaan Momberg van Efekto het oor tuinbou gesels.

Die dag is afgesluit met ‘n spesiale wynproe-dinee. Die voormalige Springbok rugby speler, Schalk Burger snr, van die familie se Welbedacht wynlandgoed by Wellington, het spesiaal vir daardie geleentheid wyne saamgebring, wat saam met ‘n drie-gang maaltyd aangebied is om te proe. Tydens die geleentheid is daar ook ‘n veiling gehou van versamelaarswyne. Altesaam N$28 000 is ingesamel ter ondersteuning van Belinda Vermeulen, ‘n inwoner van Otjiwarongo wat weens ‘n motorongeluk in ‘n rolstoel gelaat is. “Dit is vir ons belangrik om aan die gemeenskap, wat ons elke jaar ondersteun, erkenning te gee en as teken hiervan weer ons bydrae terug te ploeg in die gemeenskap,” sê Ben Mouton, wat al die harde werk agter die skerms met die Top Tien se reëlings hanteer het.

Die Top Tien veilingsgroep sluit in Jörg Sigwart van Okamaja Bonsmaras, Erni en Regina de Fries van Ondoka Bonsmaras, Edward Hansen van Emok Bonsmaras, Dries Venter van Tzaus Bonsmaras, Ben en Corlia Mouton van Wagner Bonsmaras, Streicher en Hella Coetzee van Hochfeldstreek Bonsmaras, Jörg von Dewitz van Stokkies Bonsmaras en Volker Kreft van Omuronga Bonsmaras.

Recent News

Monday, 23 March 2020

On 23 March 2020 the Bonsmara family has lost one of its dearest pillars and beacons with the passing away of Jorg Sigwart.

No one will ever be able to fill his place, he showed each and every one of us how to live fully and compassionately! His place will forever be empty amongst us.

Meatco Producer of the month - February
Published in Agriforum
Saturday, 29 February 2020

We would like to congratulate David Botha and his daughter Dene Botha with this outstanding performance!

FNB / Bonsmara Namibia Training day 2019
Published in Rubicon
Tuesday, 09 April 2019

On Tuesday the 9th April 2019, 126 people arrived at the Agra / Bank Windhoek Ring and Lecture venue for the Bonsmara Training Day.

The audience consisted of students from UNAM, NUST as well as young emerging farmers.