Otjivanda Bonsmara Boeredag-en Veilingsverslag
- Sunja van Heerden

- Feb 12
- 3 min read

Visie
Die Otjivanda Bonsmara Veiling het Grootfontein vir die eerste keer op die kaart gesit as ‘n Noordelike tuiste vir topgehalte Bonsmara-bulle. Die veiling is gebore uit die besef van die Bonsmara-genootskap dat ‘n groot deel van Namibië se beesboere meer Noord geleë is en dat ons ‘n verantwoordelikheid het om kwaliteit diere tot op die plaas van ons kliënte te bring. Hierdie visie het die grondslag gelê vir ‘n plan om Noordelike boere direk te bedien en terselfdertyd kennis oor volhoubare boerdery aan hulle oor te dra.
Die genootskap is oor die jare van mening dat hulle nie net diere moet verkoop nie, maar boere ook moet bemagtig. Bemagtiging deur kennis is volgens ons die sleutel tot volhoubare boerdery en ‘n sterker Nasionale beeskudde. Hierdie visie het aanleiding gegee tot die eerste eksklusiewe Bonsmara boeredag tesame met die Otjivanda Bonsmara Veiling in Grootfontein. Propvol praktiese inligting en raad vir die boere van die streek. Met hierdie doelwit in gedagte, het intensiewe beplanning gesorg dat die veiling en boeredag ‘n groot sukses was.

Boeredag & Veilingsaanloop
Maande se afronding, beplanning en voorbereiding het tot ‘n werklikheid gelei toe die eerste bulle Dinsdag, 14 Oktober 2025, vanuit die diep suide vertrek het. Na ‘n bykans 1000 km-rit, met verdere bulle wat in Windhoek en Otjiwarongo opgelaai is, het 15 topgehalte bulle veilig in Grootfontein aangekom, alles te danke aan Willie Bergh Transport se verantwoordelike vervoer.
Teen Woensdagmiddag was die opgewondenheid van die plaaslike gemeenskap duidelik tasbaar. Boere het steeds kaartjies bespreek vir die boeredag wat op 18 Oktober om 08:00 begin, en besoekers het by die krale aangekom om vrae te vra en kennis oor die Bonsmara in te win en te deel. Die opgewondenheid onder boere om te hoor dat hierdie veiling ‘n jaarlikse instelling is, was merkwaardig.
Die oggend van 18 Oktober is die dag amptelik afgeskop met ‘n lesing deur Willie Storm, Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur 2025, wat boere aangemoedig het om vandag reeds te begin dink aan volhoubare boerderypraktyke. Willie deel kennis soos toffies – soms taai om aan te herkou, maar waardevol met nuwe vooruistigte.
Hendrik Botha, ervare herlewingslandboukundige van die plaas Agagia, het 30 jaar se syfers en ervaring gedeel, wat die gehoor verbaas en inspireer het om meer doeltreffend en ekonomies te boer.
Na ‘n kort breek het Willie Storm weer die vloer geneem oor herlewingslandbou en grondbestuur, selfs al was daar ‘n kragonderbreking, het die projector gelol en was dit warm en drukkend, het dit nie Willie se passie vir herlewingslandbou geblus nie.
Daarna het Hella en Streicher Coetzee, NLU Lewendehawe Produsente van die jaar 2024 en ook Bonsmara Stoetboere, die veilingsbulle bespreek, wat die publiek insig gegee het in die kwaliteit en waarde van die bulle wat onder die hammer kom.
Veilingsverslag
Na middagete het die eerste Otjivanda Bonsmara Veiling elektries begin. Die veiling self het ’n uitstekende uitslag opgelewer:
12 van 15 bulle verkoop
Gemiddelde prys: N$44 800
Hoogste prys: N$57 000
Bywoning tydens boeredag: 100 gaste
Hierdie sukses bevestig nie net die vraag na kwaliteit Bonsmara-genetika in die Noorde nie, maar ook die waarde van kennisdeling en gemeenskapsbetrokkenheid.
Die genootskap beklemtoon steeds dat hulle altyd ‘n dieper spoor wil trap in ‘n gemeenskap en nie net diere agterlaat nie, maar boere bemagtig deur kennis.
Borge
Hierdie tipe boeredae sou egter nie moontlik gewees het sonder die getroue ankerborg FNB Namibië nie. Sedert 2013 ondersteun FNB die Bonsmara Genootskap en hierdie vennootskap het oor die jare van krag tot krag gegroei, met opleiding en kennis wat terugvloei na die breër boerderygemeenskap. Ons spreek ‘n besonderse dank uit teenoor FNB en spesiaal Christo Viljoen, vir hierdie volgehoue ondersteuning!
Opregte dank ook aan ons ander borge: UPL/Odussa Farming, Kyron Agri en Molatek, vir hul betrokkenheid en bydrae tot die sukses van die dag.
Telerbetrokkenheid
Telers wat deelgeneem het aan die veiling:
DKT Bonsmaraa
Endelela Bonsmaras
Hoanob Bonsmaras
MBM Bonsmaras
Okozonduno Bonsmaras
Rooibees Bonsmaras
Zunica Bonsmaras
Die eerste Otjivanda Bonsmara Boeredag en Veiling was dus nie net ’n kommersiële sukses nie, maar ook ’n betekenisvolle belegging in die ontwikkeling, volhoubaarheid en groei van die Bonsmara-ras in Noord-Namibië.
Sunja van Heerden








Comments